Treffende musiekvideo uit van ADAM en Elizca

Met die uitreiking van ADAM se tweede enkelsnit, Kalmeer, het die manne ernstig geraak en ’n sterk boodskap aan die jeug van Suid-Afrika gebring.

“Ek het Kalmeer geskryf uit ’n plek van onsekerheid oor my/ons toekoms as die jeug van Suid-Afrika, asook uit ’n plek van politieke onsekerheid. Dit het my geweldig gepla en na baie diep denke het ek tot die gevolgtrekking gekom dat alles okay gaan wees. Ons gaan okay wees. Ons, as ’n nasie, was al daar (konsentrasiekampe, Anglo-Boereoorlog, Apartheid – en nog baie ander tye van politieke onstabiliteit en onsekerheid oor jou toekoms) en ons het sterker anderkant uitgekom. Ons is sterker mense as gevolg daarvan,” sê Hugo Ludik.

Die musiekvideo vir hierdie treffende lied, wat vervaardig is deur Fathom Media en finansieël ondersteun is deur Afriforum en Dapper Media, is pas uitgereik. Dit is geskiet by die Willem Prinsloo Landbou Museum in Cullinan.

Die lirieke in die lied, “ons trek nou swaar, ons was al daar”, is ’n herinnering dat vorige generasies van Afrikaanse mense ook gesukkel het en hulle eie uitdagings van hul tyd moes deurmaak en oorkom. “Ons probeer net vir mense sê dat dit nie saak maak waardeur hulle op die oomblik gaan nie – ’n mens kan bo uitkom want ons voorgangers het,” sê Kyle Grant, wat ook verantwoordelik was vir die ontwikkeling van die konsep vir hierdie video.

Die talentvolle sangeres, Elizca Coetzer (vrou van Kyle Grant), is ook in die musiekvideo te sien en sing saam met die manne van ADAM op hierdie lied. Sy word beskryf as een van Suid-Afirka se beste sangeresse en het al ’n Naledi –toekenning ontvang en baie hoofrolle in musiekblyspele agter haar naam. Volgens die groep is sy die enigste vroulike kunstenaar in die land wat hulle voel reg aan hierdie lied kon laat geskied.

Kalmeer is ’n liedjie van hoop. “Ons trek nou swaar, maar ons was al daar, ons weet om dit deur te maak, die swaarkry het heel gemaak… Trek In. Word stil. Kalmeer.”

Loer hier onder na die nuwe musiekvideo:- ADAM ft. Elizca Coetzer – Kalmeer

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment