Nuwe enkelsnit van Mari Bosman uit en sy vier vrouwees

Mari Bosman het pas haar nuwe enkelsnit, As Vrou, ter viering van Vrouemaand- en dag vrygestel. En nes haar siening van vrouwees, gaan die liedjie liefde en omgee in sy verskillende vorme uitstraal…

“Omdat dit Vrouemaand en binnekort ook Vrouedag is, wou ek graag iets daarbuite sit ter viering van vroulike rolmodelle. Ek wou ook uitbeeld waarna ek streef in my eie vrouwees,” vertel die sangeres, wat die enkelsnit saam met die skrywer Vaughan Gardiner gepen het. Hugo Ludik en Vaughan het die verwerking daarop gedoen.

’n Musiekvideo, wat deur Deon van Wyk opgeneem en vervaardig is, word ook vrygestel en dra nes die liedjie self ’n sterk boodskap aan vroue oor.

Mari sê sy hoop die nuwe liedjie sal mense laat goed voel, inspireer en aanmoedig om die lewe met albei hande aan te pak. “Dit het ’n lekker ritme waarop daar gebraai, gedans of geroadtrip kan word, maar met ’n positiewe, dieper betekenis,” vertel sy. Sy wil hê luisteraars moet goedvoel en die liedjie moet hul harte raak.

“Ek is met elke liedjie dankbaar om ’n boodskap in lirieke en melodieë te kan omskep. Dit is die lekkerste kuns! Om ’n mens se klank te vind in die industrie is soms ’n lang en duursame proses, maar ek voel ek is op ’n goeie plek in my loopbaan. Ek het die vryheid om in die genre te sing waarvan ek hou.”

Mari is reeds twaalf jaar in die musiekbedryf doenig, en sê om ’n verhoog met van Suid- Afrika se top kunstenaars te deel, een van haar hoogtepunte is sover.

Sy put gereeld inspirasie uit plaaslike kunstenaars en liedjieskrywers soos Valiant Swart, Jan Blohm, Karen Zoid en Elvis Blue. “Elvis se energie op die verhoog en die manier hoe sy lierieke en melodieë mense raak is iets besonders. Omdat ons genre baie dieselfde is, is dit waarna ek streef,” vertel sy. Nog een van haar gunsteling liedjieskrywers is Christoph Kotze, beter bekend as APPEL.

Waarna luister sy graag? “Ek is mal oor musiek uit die 60’s en 70’s. Dalk omdat ek ’n bietjie van ’n ou siel is! Ek hou ook van Country musiek en folk.” Haar gunsteling musiek aanhaling is die van ene Bruce Springsteen, en lui: “The best music is essentially there to provide you something to face the world with.”

Loer hier onder na die nuwe musiekvideo van haar:- MARI BOSMAN – AS VROU

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment