Die sanger Dewald Dippenaar is maar stil deesdae, maar hier is ‘n kort Bio oor hom

Dewald Dippenaar is ‘n gebore musikant en knap liedjieskrywer in Afrikaans en Engels en is reeds vir meer as n dekade ‘n uiters suksesvolle kunstenaar in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy besonderse stem pas die rock en country genres perfek, en hy is ook ‘n baie veelsydige kitaar en mondfluitjie speler.

Dié instrumente maak ook ‘n groot deel van sy energieke lewendige optredes uit. In 2000 ontvang Dewald sy graad in Ekonomie (B.Econ) aan die Universiteit van die Vrystaat en begin sy loopbaan as voltydse sanger en liedjieskrywer.

Gedurende 2002 toer Dewald vir agt maande deur Engeland en doen meer as veertig baie suksesvolle konserte in Brittanje. In 2004 begin opnames vir sy eerste volwaardige oorspronklike cd, getiteld “October Sky”. Dewald skryf ook al die snitte op hierdie album.

Gedurende 2007 word die groot treffer ‘Wys jou muis’ vrygestel. Die treffers ‘Wys jou muis’, “Plaasdorp” en “Wondervrou” maak ‘n groot impak op die trefferparades van verskeie radiostasies landswyd, asook televisie programme soos DKNT (KykNET) en MK Top Tien Musiekvideo’s.

Gedurende 2010 skiet Dewald sy eerste lewendige dvd opname met ‘n vyfstuk orkes voor ‘n lewendige gehoor. Die dvd word tydens die musiek reeks “My Storie” op KykNet uitgesaai. Gedurende 2010 word sy album ‘Bel die polisie!’ deur Select Musiek uitgereik.

Hierdie cd word vir ‘n Huisgenoot Tempo toekenning benoem in die kategorie “Beste dans album” en lewer verskeie treffers, soos die dansvloer knakkers “Bel die polisie!” en “Gaan Bos” op. Die liedjie “Gaan Bos” word in 2011 verder gevestig as treffer nadat dit deur die grootste musiekfees in die land, Innibos, gebruik word in die fees se media reklame veldtog op televisie en radio.

Daarna word Dewald genooi om op die Standardbank hoof verhoog ‘n twee uur lange konsert met van die land se grootste sterre voor nagenoeg 40 000 feesgangers te lewer. Dewald maak sy filmdebuut as akteur in 2014 in die Afrikaanse fliek “Spook van Uniondale”, waar hy die rol van ‘n polisieman vertolk. Sy vierde oorspronklike cd, “Een uit ‘n miljoen” is sopas bekend gestel en geniet reeds radio speeltyd op verskeie trefferparades landswyd.

Loer hier onder na een van sy ‘gewilde’ musiekvideo’s:- Dewald Dippenaar – Wys Jou Muis (Official Video)

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment